Central SA
Tonnel eis lewe van jong delwer─── 08:15 Thu, 31 Dec 2020

‘n 20-jarige delwer van Namakwaland - Genaldo Cloete - is Dinsdag oorlede nadat ‘n tonnel in ‘n ongebruike myn sowat 30 km buite die kusdorp, Kleinzee, op hom ineengestort het.
Na talle aansoeke by die regering vir mynpermitte om die diamantryke grond te myn, word hierdie myn steeds bewerk deur onwettige delwers.
Die streek gaan onder erge werkloosheid gebuk, en die delwers sê hulle probeer om 'n bestaan te maak ten spyte van die onveilige omstandighede.
Van die delwers het aan OFM-nuus gesê die koronavirus (Covid-19) pandemie het hulle situasie vererger, en dit is die enigste manier hoe om vir hulle families te sorg.
Polisiewoordvoerder Sergio Kock het aan OFM Nuus gesê die polisie ondersoek die voorval.
OFM-nuus/ Mia-Leigh Cloete