Central SA
Kabeldiefstal in Kimberley het inwoners raadop─── 11:37 Sun, 03 Jan 2021
Die polisie in Kimberley word daarvan beskuldig dat hulle niks doen om toenemende kabeldiefstal aan te spreek nie.
Inwoners van Casandra word die afgelope twee jaar deur kabeldiewe geteister, wat koperkabels in die gebied steel.
Volgens inwoners is die polisie van geen hulp nie, omdat diefstal daagliks voortgaan. Die jongste voorval was op Nuwejaarsdag toe booswigte glo probeer het Om kabels te steel.
By navraag oor die bewerings het polisiewoordvoerder Tessa Jansen aangevoer dat ‘n taakspan op die been gebring is om die gebied te patroleer, en dat daar geen amptelike saak tot dusver by die polisie aangemeld is nie.
Sy sê in die jongste voorval het die polisie op 10kg koper kabels beslag gelê wat verlate in die veld gevind is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Jansen sê die polisie doen hulle bes om diefstal en ander misdaad in die gebied te bekamp, en benodig die hulp van die publiek hiermee.
OFM-nuus/Roderick Titus
