Central SA
Verdagte vas vir Sassa-bedrog─── 12:36 Sat, 16 Jan 2021
Die Valke het ‘n 61-jarige vrou in hegtenis geneem nadat sy in besit van verskeie Sassa-kaarte, asook bankkaarte en ID-dokumente van begunstigdes van sosiale maatskaplike toelae gevind was.
Valke-woordvoerder Nomtandazo Mnisi sê die vrou het glo ‘n onwettige leningskema bedryf, en sal in aanhouding bly totdat sy Maandag in die Upington-landdroshof verskyn.
Sassa-hoof, dr. Donald Joseph, het intussen begunstigdes van maatskaplike toelaes aangesê om nie hul kaarte aan sogenaamde “loansharks” te gee nie, omdat dit onwettig is en teenstrydig met Sassa se beleid.
Die hoof van Binnelandse Sake in Upington, Constance Gopane, sê op haar beurt die besit van iemand anders se ID-dokument asook paspoort is ‘n oortreding van die wet, en strafbaar.
Sy voeg by die gemeenskap moet sodanige persone aanmeld, sodat hulle strafregtelik vervolg kan word.
Mnisi sê soortgelyke operasies sal voortgaan om te verseker dat diegene wat persone uitbuit vasgevat word.
OFM-nuus/Roderick Titus
