On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Damvlakke: 'n Blik van bo

───   07:57 Mon, 18 Jan 2021

Damvlakke: 'n Blik van bo | News Article
Krugersdriftdam. PHOTO: Shandor Potgieter

Met dele van sentraal Suid-Afrika wat jare lank al gebuk gaan onder erge droogte, het groot dele van dié streek onlangs baie goeie reën ontvang.


OFM-nuus se Cathy Dlodlo en The Good Morning Breakfast se Shandor Potgieter het Sondag self gaan kyk hoe dit met damvlakke in die Vrystaat gaan.



Die twee het met 'n Cessna oor die Krugersdriftdam in die Vrystaat gevlieg. Luidens die nuutste beskikbare inligting was dié dam verlede week 66% vol - maar dit staan tans op 108.8% vol. 

Die watervlak was dieselfde tyd verlede jaar op 47.9%. Vol damme en goeie reën is verblydende nuus, maar hou dikwels ook slegte nuus in, soos onder meer boerderye wat skade ly, en algemene skade weens vloede. 

OFM-nuus het vroeër berig Vrystaat Landbou (VL) het Donderdag 'n dringende brief aan die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer gerig en gevra dat dringende stappe gedoen word om paaie vir dringende toegang te herstel. Dit kom nadat oorstromings weens swaar reën in die provinsie ernstige skade aan paaie, veral in onder meer die Bultfontein-, Hoopstad- en Vredefort-gebiede aangerig het. 

Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL, sê die onlangse erge reën het daartoe gelei dat baie paaie en brûe wegspoel of onbegaanbaar is. Hy sê boere sal dit toenemend moeilik vind om produkte na markte te vervoer. Daarbenewens plaas die verhoogde stremming op beweeglikheid die lewens en lewensbestaan van hele gemeenskappe in gevaar. 

Warm toestande het verlede naweek oor groot dele van die somerreënvalgebied voorgekom, maar versuiptoestande kom in dele van Noordwes en die Oos-Vrystaat voor. Luidens Landbouweekblad heers daar terselfdertyd droogtetoestande oor veral die binneland van die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Wes-Kaap, asook dele van die Noord-Kaap. Baie somergraanboere ervaar baie nat toestande. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê vooruitsigte lyk baie gunstig vir verdere swaar reën in die laaste deel van Januarie en die eerste deel van Februarie oor bykans die hele somerreënvalgebied van Upington in die weste tot verby Ermelo in die ooste. Die La Niña-stelsel, wat van verlede jaar af heers, het nou sy hoogtepunt bereik en weermodelle dui aan dat dié weerpatrone in die volgende paar maande gaan oorheers.

Hy voeg by dat die departement rampbestuurspanne na dié gebiede ontplooi het.

OFM-nuus gaan talle damme in die streek besoek, en jou op hoogte van die nuus hou.


OFM-nuus




@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.