Central SA
#CoronavirusNC: Beweerde drankverkoper vas─── 07:48 Tue, 26 Jan 2021
'n Verdagte wat betrap is in besit van drank en sigarette met 'n geskatte straatwaarde van meer as R50 000, asook 'n groot hoeveelheid kontant, is in Galeshewe in die Noord-Kaap in hegtenis geneem.
Polisiewoordvoerder van Kimberley, Olebogeng Tawana, sê die polisie het 'n man in hegtenis geneem nadat hulle gewaar het hoe talle mense die verdagte se perseel besoek om alkohol te gebruik, of drank te koop en weg te neem.
In 'n afsonderlike voorval het die polisie in die Mothibistad naby Kuruman nog 'n man in hegtenis geneem wat drank vervoer het. Die verdagte is in die dorp Magojaneng in hegtenis geneem.
Tawana sê in die poging om Covid-19-wetgewing vir rampbestuur toe te pas, is die polisie in die Noord-Kaap hard aan die werk om te verseker dat die regulasies nagekom word. Die verdagtes sal na verwagting binnekort voor die onderskeie landdroshowe in Mothibistad en Galeshewe verskyn.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
