Central SA
DA bekommerd oor geslagsgeweld in Noord-Kaap─── 05:44 Wed, 27 Jan 2021
Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap sê hulle gaan die hantering van geslagsgeweldsake in die provinsie - veral die Upington-omgewing - verskerp.
Dit volg ná die aanranding en verkragting van 'n 59-jarige weduwee in haar huis verlede week in die vroeë oggendure.
DA-raadslid Henk Opperman sê sy party sal met die SAPD en plaaslike munispaliteit skakel om saam te werk om geslagsgeweld te bekamp. Die sigbaarheid van die SAPD moet volgens Opperman 'n prioriteit word, asook die doeltreffendheid van buurtwaggroepe in elke dorp.
Die afgelope paar jaar het Upington 'n brandpunt van geslagsgeweld-voorvalle geword. Verlede jaar is 'n 71-jarige afgetrede sakevrou dood in haar swembad by haar huis gevind. Enkele maande later is 'n 80-jarige vrou van Middelpos ook dood in haar huis gevind.
In 2019 was daar die tragiese dood van 'n 82-jarige verkragtingslagoffer wat oorlede is in Blikkiesdorp; die verkragting en moord op 'n jong meisie in Bellview; en die moord op 'n 27-jarige verstandelik gestremde vrou in die Morning Glory-begraafplaas.
Volgens Opperman sal hy 'n rooster saamstel ten opsigte van dié sake sodat hy en mede DA-raadslede die sake kan monitor totdat uitspraak en vonnis gelewer word.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
