Central SA
Motoriste moet alternatiewe roetes in NK gebruik─── 13:10 Thu, 28 Jan 2021
Motoriste en veral eienaars en bestuurders van swaar voertuie in die Noord-Kaap is gevra om van alternatiewe roetes gebruik te maak.
Oorstromings het vertragings veroorsaak op die R31 tussen Postmasburg en Kimberley, terwyl minstens een bakkie 20 kilometer van Daniëlskuil af weggespoel het, met die pad na Koopmansfontein wat ook oorspoel is.
Verskeie vragmotors is vasgekeer terwyl sommige steeds die gevaarlike waterstrome aandurf ondanks versoeke van die Departement van Openbare Werke en Vervoer. Die departement het vroeër 'n waarskuwing uitgereik en gevra dat motoriste alternatiewe roetes moet gebruik omdat swaar reën groot gedeeltes van die Noord-Kaap bykans onbegaanbaar gemaak het weens oorstromings.
Die pad tussen Kimberley en Douglas is ook intussen gesluit terwyl nooddienste personeel na Ritchie ontplooi het waar groot getalle inwoners weens oorstromings hulp nodig het. Geen beserings en lewensverliese is sover aangemeld nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
