Central SA
DA bevraagteken NK se skoolgereedheid─── 09:00 Wed, 17 Feb 2021
Die DA identifiseer kritieke tekortkominge in verskeie skole regoor die Noord-Kaap, alhoewel die Departement van Onderwys die afgelope week aangekondig het dat die provinsie 97% skoolgereed is.
"Die DA het kritieke tekortkominge in ons toesigbesoeke aan skole regoor die provinsie geïdentifiseer. Elke besoek weerspreek die departement se inligtingsessie verlede week oor skoolgereedheid," sê Pricilla Isaacs, raadslid van die DA.
Terwyl die departement gemeld het dat 97% van die skole gereed is en dat almal genoeg handboeke het, is tekorte aan ondersteuningsmateriaal vir leerlinge en onderwysers (LTSM) 'n uitdaging vir primêre en sekondêre skole. Na raming het 42% van die skole nie hul handboeke betyds ontvang om van die eerste skooldag af leerders te onderrig nie, sê Isaacs.
Isaacs noem die inhandiging van skoolboeke wat deur skole gerapporteer word, wissel van 80% tot 90%, wat wys dat skole hul rol speel. Een skool het 'n dringende behoefte aan ondersteuningsmateriaal ten bedrae van R430 000 voordat dit met sinvolle skoolopleiding kan begin.
Die gebrek aan handboeke is nie die enigste probleem nie. Daar is 35 skole wat mobiele klaskamers benodig, 14 skole met wisselvallige watervoorsiening, 9 skole het sanitasie-uitdagings en byna 17 000 leerders is sonder meubels. Dit hou nie rekening met die onlangse vloedskade nie. Altesaam 27 skole is oorstroom en paaie na nog 127 skole het weggespoel.
Isaacs sê dat die DA 'n dringende versoek aan die Portefeuljekomitee vir Onderwys sal rig om moontlike oplossings vir hierdie probleme op te volg en sal ook parlementêre vrae vra indien nodig om gebeurlikheidsplanne te evalueer ter wille van vordering met die oplossing van uitdagings vir kritieke onderwys.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
