Central SA
#GBV: De Aar se nuwe toerusting kan kinderslagoffers help─── 09:36 Thu, 18 Feb 2021
Die Matla A Bana-stigting - 'n stem teen kindermishandeling - het in samewerking met Old Mutual die De Aar-eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings (GKS) geïdentifiseer om oudiovisuele toerusting te installeer.
Dié toerusting sal gebruik word by die beoordeling van minderjarige slagoffers wat blootgestel is aan seksuele geweld. Die stigting se primêre doel is om die sekondêre mishandeling waaronder kinders ly wanneer hulle mishandeling aanmeld, tot die minimum te beperk en gemeenskappe te mobiliseer om oor kindermishandeling te begin praat.
Hierdie kindervriendelike geriewe sal die eerste in die Noord-Kaap wees, hoewel daar nog twee eenhede in Upington en Kimberley is wat tans nie die toerusting het nie, sê polisiewoordvoerder Mashay Gamieldien.
Monique Strydom van die Matla A Bana-stigting, vergesel deur die provinsiale bevelvoerder van die Forensiese Maatskaplike Werkers kolonel Erica Scheepers, die De Aar-stasiebevelvoerder kolonel Jenny Christie, en die forensiese maatskaplike werker by De Aar-eenheid kaptein Ulla Spies, het 'n terrein-inspeksie gedoen van die geriewe op 16 Februarie 2021.
Die installering en opknapping sal oor vier weke daar begin. Die Matla A Bana-stigting het 'n goeie vennootskap met die SAPD in die Noord-Kaap en is betrokke by talle gemeenskapsprojekte wat deur die GKS-eenhede geïnisieer is.
In 2000 het Strydom 'n gyselaarsdrama van vier maande in die hande van Al-Qaida-terroriste in die Filippyne oorleef. Die oggend van haar vrylating het sy beloof om haar lewe toe te wy om ander in nood te help.
Die stigting het talle troospakkies geborg vir slagoffers en bied ook gespesialiseerde opleiding aan speurders en maatskaplike werkers.
Volgens Gamieldien het Brigadier Nicky Mills, die provinsiale hoof van die GKS-eenhede in die provinsie, sy opregte dank en waardering uitgespreek aan die Matla A Bana-stigting vir hul ruim en waardevolle bydraes wat gelewer is en aangedui dat hy hoop dat hierdie vennootskap net sal versterk en groei. Hy waardeer ook hul ondersteuning en hulp wat nie net aan die slagoffers van seksuele geweld verleen word nie, maar ook aan die lede van die SAPD.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
