Central SA
Watertoevoer na Kimberley teen Sondag herstel─── 12:18 Sat, 20 Feb 2021
Die uitvoerende burgermeester van die Sol Plaatje Munisipaliteit in die Noord-Kaap, Patrick Mabilo, sê die watertoevoer na Kimberley sal teen Sondag volkome herstel wees.
Mabilo se aankondiging kom ná 'n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommisie se advokaat Chantelle Williams ingedien is nadat die stad se krane skielik drooggeloop het.
Mabilo sê oorstromings weens swaar reën het veroorsaak dat die pompe by die Riverton reservoir probleme begin ervaar terwyl die invloei van rouwater vanuit die Vaalrivier in die stelsel ook uitdagings gebied het.
Die munisipaliteit het ook onlangs onder skoot gekom nadat Eskom die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, genader het om te verseker dat die munisipaliteit sy skuld aan die kragverskaffer moet betaal.
Intussen sê die DA se Phillip Voster die munisipaliteit is onbevoegd om basiese dienslewering te voorsien. Dit, terwyl Malibo volhou dat herstelwerk gedoen is en die watertoevoer by Sondag normaal sal wees.
Verder sê Williams dat 'n ondersoek na die waterprobleem gelas gaan word omdat die lewering van water 'n basiese reg is.
Mabilo sê die munisipaliteit neem kennis van die Covid-19 pandemie en het watertenks ingespan om water aan inwoners te voorsien.
Hy versoek inwoners om water spaarsamig te gebruik omdat die waterdruk weens oorstromings en herstelwerk laag is en stelselmatig tot normaal sal terugkeer.
OFM-nuus/Roderick Titus
