Central SA
NK werk aan maniere om leerderplasings te verseker─── 08:36 Mon, 22 Feb 2021
Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys is tans besig om alternatiewe reëlings te tref om die lewering van mobiele klaskamers te verseker.
Dit, in 'n poging om die plasing van graad R-, 1- en 8-leerders aan te spreek, aangesien skole hul maksimum kapasiteit in Kimberley bereik het.
Die jongste syfers dui aan dat 2 592 leerders nog geplaas moet word - hoofsaaklik leerders in graad R, 1 en 8 in die Frances Baard-distrik.
Die departement sê hy werk deurlopend om skoolruimte in die volgende paar weke te verseker.
Die departement sal ook voorkeur gee aan die konstruksie van minstens twee nuwe skole - spesifiek in Kimberley - wat hierdie beduidende toename in leerdergetalle sal kan absorbeer.
Ouers word versoek om kalm en geduldig te bly terwyl hulle hul bes doen om die situasie op te los.
Die departement het ook Donderdag en Vrydag met skoolbeheerliggame in gesprek getree om ondersteuning te kry. Die departement het verder gesê dit is bly om aan te kondig dat hulle 'n gemeenskaplike grondslag gevind het en hoop om hierdie proses binnekort af te handel.
Verder het die Covid-19 pandemie 'n impak gehad op die voltooiing van infrastruktuurprojekte in die vorm van addisionele klaskamers om bykomende skoolruimtes vir leerders te skep.
Daarmee saam het die departement verlede jaar die aanlyn-toelatingstelsel ingestel en dit blyk baie goed te funksioneer.
Die departement het egter 'n beduidende toename in die totale aantal aansoeke gesien in vergelyking met vorige jare.
Daarbenewens het 30% van die leerlinge ná die inperkingstydperk verlede jaar nooit weer teruggekeer nie en is hulle as skoolverlaters beskou.
Die departement sê egter hulle is verlig dat die meeste van hierdie leerders terug is skool toe en hul plek in skole inneem.
Die impak van die pandemie moet ook nie onderskat word nie, aangesien 'n beduidende aantal aansoeke ontvang is vir leerders wat in private skole was, waar ouers nie meer die skoolgeld kan bekostig nie.
Die provinsiale departement het ook 'n aantal aansoeke ontvang van leerders wat uit ander provinsies en distrikte verhuis, wat skoolruimtes in veral Kimberley vereis. Hierdie en ander faktore het bygedra tot die situasie waarmee die departement in die Frances Baard-distrik gekonfronteer word.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
