Central SA
Warrenton-inwoners ontsteld oor kragsituasie─── 11:15 Wed, 24 Feb 2021
Inwoners van Warrenton in die Noord-Kaap sê hulle is ontsteld nadat hulle reeds vir meer as 36 uur sonder elektrisiteit sit weens 'n kragkabel wat ontplof het.
Die Vryheidsfront Plus se takvoorsitter, Gert van Heerden, sê die probleem is nie verouderde infrastruktuur nie, maar eerder onkundige werkmanskap omdat die kabel reeds meer as drie keer herstel is en elke keer net weer ontplof.
Hy meen die Magareng-munisipalitiet se verskoning dat die herstelwerk weens reën in die gebied vertraag word, is nie voldoende nie.
Hy sê die gemeenskap, wat besproeiingsboerdery en kommersiële delwery beoefen, se aanbod om die problematiese kragkabel te herstel het sover op dowe ore geval.
Motoriste in die gebied is gevra om versigtig te wees vir stakende werkers. Dit nadat bande by die ingang van Warrenvale gebrand is.
Die situasie is volgens berigte kalm.
OFM-nuus/Roderick Titus
