Central SA
NW-tieners maak grafte skoon vir sakgeld─── 15:25 Wed, 17 Mar 2021
Twee tieners van Hartbeespoort in Noordwes, die 14-jarige Eugene Erasmus en sy 16-jarige suster Marike Erasmus, het dit op hulself geneem om plaaslike grafte skoon te maak vir ekstra sakgeld.
In 'n onderhoud met OFM-nuus sê Marike sy spaar vir 'n motor vir wanneer sy universiteit toe gaan en Eugene wil met gimnastiek-klasse begin. Erasmus sê sy en haar gesin het 'n familielid se graf besoek en het besef in watter slegte toestand dit was.
Toe sy na die toestand van hierdie grafte gekyk het, het Marike haar ma gevra of daar niks was wat hulle daaraan kon doen nie. Toe hulle besef dat daar 'n behoefte in die begraafplaas is om grafte skoon te maak, het hulle 'n Facebook-blad begin, "Kids in Action Cemetery Care", om hulle dienste aan te bied.
Erasmus sê hulle maak elke tweede week vir R100 per maand grafte skoon. Sy voeg verder by dat die projek in Januarie 2021 begin het.
Ma van Marike en Eugene, Charmaine Erasmus, sê sy is baie trots op haar kinders en sê die projek was tot dusver 'n groot sukses. Sy sê die gemeenskap is baie betrokke by die projek en bied geweldige ondersteuning aan die kinders. “Daar is sakeondernemings in die omgewing wat grafte geborg het, en dit is mense wat nie eens die kinders ken nie, maar die kinders se projek wil ondersteun,” sê Charmaine.
OFM-nuus/Blaine Jones
