Central SA
Reënwaarskuwing vir sentraal SA─── 06:46 Wed, 24 Mar 2021
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor ontwrigtende reën wat in die Noord-Kaap asook dele van die Vrystaat en Noord-Wes verwag word.
Die weerdiens sê hulle verwag swaar reën, hael en weerlig wat tot oorstromings kan lei in die noordoostelike dele van die Noord-Kaap, die noordwestelike dele van die Vrystaat, en die westelike en suidelike dele van Noordwes.
Die kantoor sê verder die ontwrigtende reën kan tot oorstromings lei en het gevra dat inwoners versigtig moet wees - veral in laagliggende gebiede en by brûe wat in laagliggende gebiede geleë is.
Volgens die weerdiens kan die reën tot môre voortduur nadat reën gister reeds in dele van die Noord-Kaap begin uitsak het.
Motoriste is ook aangeraai om, waar moontlik, paaie te vermy aangesien die reën ook swak sig en omstandighede kan veroorsaak.
OFM-nuus/Roderick Titus
