Central SA
Stakende Kby-inwoners waarsku munisipaliteit─── 14:40 Tue, 30 Mar 2021
Inwoners van Kimberley in die Noord-Kaap het 'n ferm waarskuwing aan die Sol Plaatje Munisipaliteit gerig en gesê daar moet aan hulle eise voldoen word.
Inwoners het Corlessweg versper uit protes teen die waterkanaal waaroor jare al gekla word, asook die slegte reuk wat in die gebied hang.
Die uitvoerende burgemeester, Patrick Mabilo, het inwoners toegespreek en belowe dat aandag daaraan gegee sal word.
Inwoners eis ook antwoorde oor twee erwe wat 'n wyksraadslid na bewering van die munisipaliteit gekoop het. Hieroor het die waarnemende munisipale bestuurder, Boy Dhulwayo, belowe om persoonlik ondersoek in te stel en terugvoer te gee.
Inwoners sê hulle gaan Kimberley onregeerbaar maak indien daar nie aan hulle eise voldoen word nie. Inwoners het die Sol Plaatje Munisipaliteit sewe dae gegee om die kanaal skoon te maak en antwoorde te verskaf oor die twee erwe wat verkoop is.
OFM-nuus/Roderick Titus
