On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Waterkrisis duur voort in Sol Plaatje

───   12:58 Thu, 15 Apr 2021

Waterkrisis duur voort in Sol Plaatje  | News Article

Kleppe is glo laat Woensdagaand om onverklaarbare redes naby Beefmaster op die Newton-reservoir se toevoerlyn na Kimberley, in die Noord-Kaap, oopgemaak.

Dit het veroorsaak dat damvlakke wat moes styg, om die daelange waterkrisis op te los, geweldig geval het en die 23 megaliter-opgaardam onmiddellik weer toegemaak moes word.

Volgens die Sol Plaatje-raadslid, Ockie Fourie, het damvlakke in die 45-megaliter opgaardam laatmiddag van ongeveer 8 voet tot 11 voet gestyg, waarna daar oorgeskakel is na die 23 megaliter-opgaardam. Dié opgaardam se vlakke het egter nie kans gehad om genoeg te styg nie, omdat iemand die kleppe voortydig oopgedraai het.

“In een of ander stadium het die ding toe nou op elf voet gekom, hy het oorgeskakel en toe het iemand gisteraand besluit om kleppe oop te maak daar by Beefmaster, wat ook op ‘n toevoerlyn na Kimberley toe is. Dit het veroorsaak dat die damvlak geweldig geval het,” het Fourie gesê.

Die uiteindelike gevolg was dat slegs een pomp Donderdagoggend in werking was. Hy voeg by dat daar wel water deurgelaat is na van die areas wat deur die reservoir bedien word. 

Fourie sê die Diskobolos Militêre Basis is gevolglik nou ‘n vierde dag sonder water omdat damvlakke nie voldoende kon styg nie. Daar is dus teruggekeer na die sone-skedule vir Woensdag en intussen word watertenkers uitgestuur na areas wat geen water het nie. 

'n Tweede pomp is kort gelede aangeskakel, wat hopelik verligting sal bring. Fourie sê dat hy die situasie verder monitor en die nodige terugvoer sal gee van enige nuwe verwikkelinge.


OFM-nuus/Lee Simmons

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.