Central SA
Kunstenaars in stryd weens #Covid19-pandemie─── 11:47 Wed, 05 May 2021
Kunstenaars sê weens die Covid-19-pandemie was die afgelope jaar die ergste ooit en moes hulle tydens die nasionale inperking vir maande sonder ‘n inkomste klaarkom.
In 'n onderhoud met OFM-nuus, sê die kunstenaar Sikelelwa “Siki Jo-An” Qwazi – wat beroemdheid verwerf het as ‘n finalis in M-net se The Voice-reeks – haar optrede die afgelope naweek in Bloemfontein was juis daarom ‘n seën.
Plaaslike kunstenaar, vervaardiger en gospelsanger, Jerry Melamu, sê dit was ‘n stryd om gedurende dié tyd vir sy gesin te sorg. Kunstenaars moes ook na mekaar begin omsien.
Melamu sê die bietjie geld wat hy gehad het toe die pandemie toegeslaan het, moes hy ook gebruik om mede-kunstenaars te help met kos en medikasie. Bo en behalwe sy finansiële stryd, het Melamu ook familielede aan Covid-19 afgestaan. Hy sê verder dat hy nie die risiko kon neem om opnames in sy ateljee te doen nie, alhoewel dit die grootste gedeelte van sy inkomste is.
Kunstenaars sê alhoewel al hoe meer toegewings aangekondig word tydens die verandering van die vlakke van inperking, gaan kunstenaars nog lank moet wag om na die verhoog toe terug te keer. Sosiale distansiëring tydens die pandemie gaan dit ook moeilik maak om soos in die verlede optredes vol te pak. Dit het dus weer ‘n invloed op kaartjieverkope.
Projekkoördineerder van die afgelope naweek se Music Extravaganza in Bloemfontein, Nathan Bagarette – waar Siki Jo-An opgetree het - sê die meeste kunstenaars sukkel om die mas weer finansieël op te kom. "Ons kyk hoe ons die kunstenaars kan help in 'n tyd wat kunstenaars desperaat is om ‘n inkomste te verdien."
OFM-nuus/Blaine Jones
