Central SA
Bloemfonteiner voel bevoorreg ná inenting─── 13:07 Wed, 26 May 2021
'n 76-jarige inwoner van die Westerbloem-aftreeoord in Bloemfontein, Florence du Preez, is hoogs beïndruk met die tweede fase van Suid-Afrika se Covid-19-inentingsplan.
Sy het Donderdag, slegs twee dae nadat sy geregistreer het, die eerste spuit van haar inenting ontvang.
Du Preez sê die proses was vinnig, baie goed gehanteer en sy het dadelik 'n sms ontvang om die datum van haar inenting se tweede spuit te bevestig.
Vrystaat se tweede fase van die inentingsplan is verlede week Maandag, 17 Mei, in Qwaqwa van stapel gestuur. Mense 60 jaar en ouer word nou die geleentheid gebied om ingeënt te word. Fase twee is eers op Dinsdag 18 Mei 2021 amptelik in Bloemfontein bekend gestel nadat betogings die proses Maandag ontwrig het.
Du Preez sê ná die inenting moes hulle vir 15 minute wag om te verseker dat daar geen komplikasies is nie. "Daar was nooddienste beskikbaar, asook suurstof en 'n ambulans. Die nooddienspersoneel het aangedui wanneer ons kon vertrek nadat ons 15 minute wagtydperk verby was. Die wiele was regtig goed geolie en ons is bevoorreg om sulke diens hier te ontvang," sê Du Preez.
OFM-nuus het voorheen berig dat die Vrystaatse Premier, Sisi Ntombela, en Vrystaatse LUR vir Gesondheid, Montseng Tsiu, die tweede fase amptelik op 17 Mei 2021 by die Thekolohelong-welsynsentrum in Phuthaditjhaba, Qwaqwa, van stapel getuur het.
OFM-nuus/Blaine Jones
