Central SA
Noord-Kaap dwelmklopjag lei tot verskeie inhegtenisnames─── 08:37 Sat, 05 Jun 2021
Die polisie in die ZF Mcgawu-streek in die Noord-Kaap het 'n gesamentlike operasie in die Kai Garib munisipale regsgebied van stapel gestuur, waar daar op dwelms ter waarde van meer as R2 miljoen beslag gelê is.
Die polisie se Masay Gamaldien sê vier persele is deursoek, en dagga met 'n geraamde straatwaarde van R2 miljoen is by die eerste perseel in die Marchand informele nedersetting gevind.
Nog dagga ter waarde van R42 700 is by 'n tweede huis gekry. By 'n derde huis is twee verdagtes in hegtenis geneem, en dagga ter waarde van R61 250 en R196 400 onderskeidelik is op beslag gelê.
By die laaste perseel het die polisie 'n 28-jarige man in hegtenis geneem, en daar is beslag gelê op Mandrax-tablette en Tik ter waarde van net minder as R7 000.
Die verdagtes sal binnekort in die Kakamas-landdroshof verskyn.
OFM-nuus/Roderick Titus
