Central SA
Bfn DBV het hulp in koue nodig─── 11:50 Tue, 08 Jun 2021
Die Bloemfonteinse DBV het onlangs hul behoefte aan beddegoed en komberse beklemtoon om snags hul diere warm te hou.
In 'n onderhoud met OFM-nuus vra Reinet Meyer, bestuurder van die Bloemfonteinse DBV, mense om ou komberse, kussings of enige ou beddegoed te skenk wat die diere kan warm hou. Meyer sê egter tans is hul grootste behoefte hondekos en katkos, aangesien hulle ook 'n tekort daaraan ervaar.
Sy sê in die winter, net soos wat mense vinniger honger word en 'n groter eetlus het, kan dieselfde vir diere gesê word aangesien hulle geneig is om meer gedurende die winterseisoen te eet. Meyer sê hulle kry tussen 11 000 en 12 000 diere per jaar.
“Ons werk met dieremishandeling. Die DBV is die enigste regsorganisasie wat met dieremishandelingsake kan werk en daardie sake hof toe kan neem. Ons konfiskeer ook diere en dit is waar redding inkom. Diere is byvoorbeeld gekoppel aan kettings, [of mense hou] te veel honde aan en kan nie vir hulle sorg nie," sê Meyer. Sy voeg by dat hulle tussen 600 tot 800 diere per maand kry.
Meyer verseker dat die diere tans in goeie sorg is, maar die DBV kan hulle nie alleen help nie.
OFM-nuus/Blaine Jones
