Central SA
Seuns se skielike dood betreur ná ongeluk─── 15:06 Mon, 12 Jul 2021

Die skielike dood van die 16-jarige Janco Moolman en die 19-jarige Janu Brand word veral vanuit die Vrystaat en Noordwes op sosiale media betreur.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, Adele Myburgh, sê die twee was op 10 Julie 2021 in 'n motorongeluk betrokke toe 'n ongeluk op die Wolmaransstad/Schweizer-Reneke-pad (R504), ongeveer 25 km van Schweizer-Reneke af, aangemeld was. Myburgh sê Brand is op die ongelukstoneel dood, terwyl Moolman hospitaal toe geneem was en later aan sy beserings beswyk het.
“Met die aankoms op die toneel was daar twee voertuie op die pad - 'n wit Toyota-klub Cab wat omgeslaan het en 'n wit vragmotor met twee sleepwaens. Daar was vier mense in die Toyota-klub Cab, en in die vragmotor slegs die bestuurder,” sê Myburgh.
Myburgh sê die ander twee 19-jarige seuns wat in Moolman en Brand se voertuig was, het ernstige beserings opgedoen en is per ambulans na die hospitaal geneem. Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie. OFM-nuus het met 'n familievriend gepraat wat Moolman onthou.
“Hy was een van daai kinders waaroor almal net mal was. Hy het altyd met almal ‘n grappie gemaak. Dit was vir my verskriklik toe ek daai nuus gister ontvang het want ‘n mens gaan hom definitief mis. Hy sou altyd sy speaker in die kar gehad het want my musiek was maar boring, dat hulle nou lekker musiek kan luister,” sê sy.
Laerskool Schweizer-Reneke, Moolman en Brand se vorige skool, sê op hul Facebook-blad dat die twee hoofseuns van die skool altyd ontou sal word as leiers en altyd die ekstra myl vir hul vriende geloop het. Die skool sê die twee was geliefd onder die personeel en het altyd grappies gemaak en mense laat lag. Die skool sê verder dat hulle die twee gaan mis en hul mooi herinneringe deel.
Myburgh sê ‘n saak van strafbare manslag en drink en bestuur word ná die noodlottige motorongeluk ondersoek.
OFM-nuus/Blaine Jones