Central SA
Parlement gevra oor NK-burgemeester se twee poste─── CATHY DLODLO 11:30 Fri, 30 Jul 2021
‘n Vraag in die Nasionale Parlement oor die burgemeester van die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap, het dit aan die lig gebring dat hy twee voltydse poste by twee verskillende munisipale rade beklee.
DA-parlemenslid, Veronica van Dyk, het ‘n geskrewe vraag oor Mervin Cloete aan die Samewerkende Regering en Tradisionele Sake Minister, Nkosazana Dlamini-Zuma, in die parlement gerig.
Sy wou weet of wetgewing toelaat dat Cloete die burgemeestersposisie in die distriksmunisipaliteit – wat oorsig doen oor plaaslike munisipaliteite in dié streek - kan beklee en terselfdertyd kan dien as ‘n wyksraadslid op een van die munisipaliteite onder sy beheer - die Kamiesberg Munisipale Raad?
Van Dyk wou ook weet as dié burgemeester twee hoede in twee verkillende rade dra, of hy twee salarisse ontvang?
Die ministerie het gesê dat dit wel moontlik is in terme van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels dat Cloete op twee munisipale rade kan dien.
Hy kan egter nie twee salarisse ontvang nie, maar wetgewing bepaal wel dat hy ‘n salaris kan ontvang wat op distriksvlak bepaal word. Van Dyk sê daar is egter nog vrae rondom die saak wat nie beantwoord is nie.
OFM-nuus
