Central SA
Drie vas vir NK plaasaanval─── 11:49 Tue, 03 Aug 2021
Drie buitelanders is deur die polisie in die Noord-Kaap in hegtenis geneem nadat hulle 'n 36-jarige boer en sy 28-jarige vrou tydens 'n plaasroof in Campbell aangeval het.
Die mans het die boer en sy vrou met 'n vuurwapen gedreig en met pangas aangerand.
Hulle het die slagoffers in hulle bakkie gelaai en met 'n onbekende bedrag geld, 'n geweer en skootrekenaar, asook selfone, van die toneel na Kimberley gereis waar hulle probeer het om geld vanuit die paartjie se rekening te trek.
Die voertuig het ongeveer 20 kilometer buite Kimberley meganiese probleme ervaar, waar die verdagtes die paartjie vasgebind en langs die pad gelos het.
Al drie verdagtes is kort ná die insident in Galeshewe in hegtenis geneem en die polisie het ook die gesteelde geweer, asook die paartjie se skootrekenaar en selfone teruggekry.
Die mans gaan volgens polisiewoordvoerder, Sergio Kock, binnekort in die hof in Douglas verskyn.
OFM-nuus/Roderick Titus
