Central SA
Mev. Bfn-finalis wil mense van lewensbedreigende siekte leer─── BLAINE JONES 13:01 Mon, 04 Oct 2021
Nie baie mense weet van die siekte Pulmonêre Hipertensie of PH nie.
PH is 'n siekte wat die are van die longe beïnvloed en enigiemand kan met dit gediagnoseer word, ongeag ouderdom, geslag, sosiale of etniese agtergrond.
Finalis van Mev. Bloemfontein 2022, Elzarie Devenish, het aan OFM-nuus gesê dat die kompetisie onder meer vereis dat alle finaliste 'n gemeenskapsorganisasie moet ondersteun. Devenish sê die rede waarom sy besluit het om by die Pulmonêre Hipertensie Organisasie van Suid-Afrika betrokke te raak, is omdat dit baie naby aan die huis is. Sy sê haar broer is op 33-jarige ouderdom met dié siekte gediagnoseer. Devenish sê PH is 'n lewensbedreigende siekte en vereis dat 'n mens elke dag medikasie moet neem, sommige mense kry selfs aanvullende suurstof.
“Die Pulmonêre Hipertensie Organisasie van Suid-Afrika wil op 5 November vanjaar die 'Chariots for PH champions'-veldtog van stapel stuur. Lede van die publiek en maatskappye kan die organisasie steun deur 'n R10-plakker te koop. Die doel is dat die organisasie meer hulp kry met hulpmiddele en medikasie vir die organasasie se PH-kliënte, juis omdat die medikasie so duur is,” sê Devenish.
"Ons vra mense om ons te help deur dié plakker te koop. Hulle kan my kontak op 061-471-6238. Dra asseblief jou plakker met trots op 5 November," sê Devenish.
OFM-nuus
