On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Mangaung-inwoner wen teen magtige metro

───   CATHY DLODLO 12:54 Tue, 12 Oct 2021

Mangaung-inwoner wen teen magtige metro | News Article
PHOTO: Katleho Morapela

‘n Inwoner van Botshabelo, net buite Bloemfontein, het sy saak teen die Mangaung-metromunisipaliteit gewen nadat dit drie jaar voortgesleep het.

Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het in die jongste verslag teen die munisipaliteit in die guns van die klaer, MV Lehlokoa, beslis. Hy sê hy het ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit vir die aankoop van ‘n erf in Januarie 2018 gesluit. Hiervolgens was die koopprys vir die 522 vierkante meter stuk grond R500. Net ‘n maand later het die munisipaliteit egter die koopprys met R13 500 verhoog en gesê dat die grond intussen gewaardeer is vir dié bedrag. Dit terwyl Lehlokoa reeds die ooreengekome R500 betaal het. Die munisipaliteit het geëis dat hy die verhoogde bedrag ook betaal voordat oordrag van die grond kan geskied.

Ná ‘n oor-en-weer gekibbel oor die prys het hy teësinning toegegee en die bykomende R13 500 betaal en die grond is in sy naam oorgedra. Die titelakte het egter net die oorspronklike koopprys van R500 aangedui. Lehlokoa het toe sy stryd voortgesit om die eensydige aanpassing van die koopprys te beveg.

Mkhwebane het gevind dat die Mangaung Metro homself aan wanbestuur skuldig gemaak het deur ‘n koopooreenkoms met die klaer te sluit voordat die grond gewaardeer is. Daarby het die munisipaliteit die ooreenkoms verbreek deur die prys eensydig aan te pas en die aankoopprys was dus R14 000 in totaal. Die titelakte het egter net die oorspronklike ooreengekome prys aangedui en dit is die prys wat die koper moes betaal het.

Mkhwebane het ook aanbeveel dat die munisipaliteit die voorval behoorlik ondersoek en optree teen die munisipale beamptes wat aanspreeklik is. Die metro se beleid vir die verkoop of vervreemding van munisipale bates moet ook aangepas word om sulke klagte in die vervolg te verhoed. Sy het ook bevind dat as die munisipaliteit se interne klagte-stelsel na behore gewerk het, sou die klaer nie sowat drie jaar moes wag vir sy saak om aangespreek te word nie.

Mkhwebane het bevind dat die munisipaliteit nou skriftelik om verskoning moet vra en die totale bedrag van R13 500 aan die klaer moet terugbetaal.


OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.