Central SA
Bfn-blogger maak naam op TV─── 11:20 Fri, 15 Oct 2021
Bloemfonteiner Cathy de Lange was hierdie week op die gewilde televisieprogram, Die Groot Ontbyt, te sien nadat haar Facebook-blad “VrouFees” erken is as een van die grootste Suid-Afrikaanse sosialemedia-blaaie.
Die Groot Ontbyt word elke weeksoggend op kykNET uitgesaai.
De Lange sê aan Bloemfontein Courant se Sazly Hartzenberg dit was vir haar ‘n ongelooflike ervaring. “Dit is só lekker om te weet dat mense VrouFees koppel aan ‘n veilige, bemoedigende en positiewe sosiale gemeenskap.” Sy vertel sy het in 2017 ‘n video op haar eie profiel gemaak oor hoe “ons as vroue minder druk op onsself moet plaas om perfek te wees, die perfekte lyf te hê, en die perfekte vrou of ma te wees”.
Dit het soveel reaksie ontlok dat sy besef het daar is ‘n behoefte aan ‘n gemeenskap op sosiale media waar vroue veilig kan voel. “Sosiale media is baie dikwels nie ‘n opbouende plek nie, en ek wou ‘n plek skep wat anders sou wees. Dit is hoe VrouFees gebore is.”
De Lange het vertel hoedat een van die aanbieders, Johrné van Huysteen, vir haar ‘n boodskap gestuur het om te vra of sy graag ‘n gas op Die Groot Ontbyt wil wees. “Ek het eers gedink hy skeer gek met my! Ek kon nie gou genoeg ja sê nie. Dit was ‘n heerlike onderhoud waarin ek lekker kon gesels oor waaroor VrouFees gaan en hoedat hierdie gemeenskap van meer as 30 000 mense mekaar opbou en ondersteun.”
Een van haar gunsteling-dinge van die blog is dat almal wéét, “hier breek ‘ons’ nie af nie”. Sy sê, “As jy gaan lelik probeer wees of ander vroue aanval of afbreek, sal jy geblok word. My blad, my reëls. Positiewe gesprekke en verdraagsaamheid teenoor mekaar was nog altyd ‘n groot deel van die blad en ek is so bly dat almal dit respekteer.
“Elke liewe boodskap wat sê: ‘Baie dankie, dit was presies wat ek nodig gehad het om vandag te hoor’, of ‘dis presies hoe ek vandag voel, dis lekker om te weet ek is nie alleen nie’, is wat my dra.”
Volgens De Lange is sy ‘n baie in-die-oomblik-blogger, so as sy iets op haar hart het wat sy voel daar buite moet wees, glo sy dit is omdat iemand daar buite nodig het om dit te hoor. “En dit was nog altyd die geval. Dít motiveer my om aan te hou.”
