Central SA
Nehawu sê NK-premier se adjunkdirekteur-generaal moet geskors word─── 11:00 Sat, 16 Oct 2021
Die vakbond Nehawu in die Noord-Kaap het sy stem gevoeg by dié van die DA, dat die adjunkdirekteur-generaal in die kantoor van premier Zamani Saul, geskors moet word.
Dit volg nadat Steven Jonkers en twee direkteure van 'n private sekuriteitsmaatskappy twee weke gelede deur die Valke in hegtenis geneem is vir bedrog en die oortreding van, onder meer, die wet op openbare finansies.
Die aanklagte hou verband met 'n tender van meer as R453,6 miljoen wat Jonkers in 2017 aan die sekuriteitsmaatskappy toegestaan het.
Nehawu se provinsiale sekretaris, Moleme Moleme, sê die premier moet 'n interne ondersoek gelas omdat hulle van mening is dat Jonkers nie alleen opgetree het nie.
Moleme sê die vakbond staan by hulle oproep dat korrupte amptenare vanuit die staatsdiens ontslaan moet word om basiese dienslewering na die gewone mense te laat geskied.
Hy sê die vakbond het die kantoor van die premier gevra om Jonkers vanuit sy amp te skors.
OFM-nuus/Roderick Titus
