On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Regsadvies stop VS departement in sy spore

───   CATHY DLODLO 08:51 Mon, 01 Nov 2021

Regsadvies stop VS departement in sy spore | News Article

Die regsadvies wat die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering ingewin (Cogta) het oor sy planne om die Kopanong Plaaslike Munisipaliteit geldelike hulp aan te bied, het dié departement in sy spore gestuit.

Beamptes van die munisipaliteit het al vir twee maande nie hulle salarisse ontvang nie. Hoof van die provinsiale departement Samewerkende Regering, Mokete Duma, het aan OFM-nuus gesê dat hulle die Kopanong Munisipaliteit wou help deur geld in die Distriksmunisipaliteit se bankrekening in te betaal. Hy sê die rede hiervoor is dat daar - ingevolge ‘n hofbeslissing - op die Kopanong-munisipaliteit se bankrekening beslag gelê is.

Duma sê hulle het egter regsadvies ingewin oor hoe toelaatbaar die wyse is wat hulle wou gebruik om ten minste munisipale amptenare se salarisse te betaal. Hy sê die bevinding was dat die departement die Wet op Finansiële Munisipale Bestuur gaan oortree, wat bepaal dat die geld by die munisipaliteit wat gehelp word, inbetaal moet word. Die inbetaling kan ook as ‘n oortreding van die hofbeslissing gesien word, aangesien die hof reeds beslag gelê het op die munisipaliteit se bankrekening. Duma sê hulle moet dus nou ‘n alternatiewe plan bedink.

OFM-nuus het vroeër berig dat die Vrystaatse provinsiale regering aangedui het dat hulle geldelike hulp aan die munisipaliteit – met sy hoofkwartiere in Trompsburg – gaan bied. Teen Vrydag was munisipale amptenare se salarisse egter nog steeds nie betaal nie. Duma het in ‘n onderhoud met OFM-nuus gesê dat hulle wel hierdie belofte gestand gaan doen en dat hulle alternatiewe moontlikhede oorweeg.

Die brandarm munisipaliteit se rekening is deur die Vrystaatse Hooggeregshof gevries as gevolg van sy uitstaande skuld aan die werkers se pensioenfonds. Alhoewel die aftrekking vir die bydraes wel by amptenare se salarisse verhaal is, is dit nooit aan die pensioenfonds oorbetaal nie.


OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.