Central SA
NWU betreur dood van oud-staatspresident, alumni─── BLAINE JONES 14:44 Thu, 11 Nov 2021
Die nuus oor die dood van 'n nasionale, politieke ikoon, die 85-jarige Frederik Willem (FW) de Klerk, het tot 'n sombere atmosfeer by die Noordwes-universiteit in Potchefstroom gelei.
Die NWU-woordvoerder, Bertie Jacobs, sê De Klerk het as regstudent, en later as kanselier van die voormalige Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, diep spore by die universiteit gelaat. Jacobs sê hy was ‘n ambassadeur vir dié universiteit, asook vir Suid-Afrika.
“Dit is met groot hartseer dat die NWU verneem van oud-president De Klerk se afsterwe. Sy tyd as staatsman, nobelvredepryswenner, asook sy werk vir kultuur- en vrede-organisasies sal lank onthou word. Ons wil ons innige meegevoel aan sy familie en geliefdes betuig.”
De Klerk het in die vyftigerjare sy BA- en LLB-grade Cum Laude ontvang en is later deur die universiteit met ‘n eredoktorsgraad vereer, asook ‘n spesiale alumni-toekenningvir sy rol om vrede en versoening in Suid-Afrika en wêreldwyd te bevorder. Sy nalatenskap as staatsman, Nobel Vredeprys-wenner asook sy werk vir kultuur- en liefdadigheidsorganisies sal altyd onthou word. De Klerk, die laaste president van Suid-Afrika se apartheidsregering, is aan kanker oorlede.
De Klerk staan bekend as die laaste wit persoon wat die land gelei het, en as 'n sleutelfiguur in die land se oorgang na demokrasie. Volgens 'n verklaring van die FW de Klerk-stigting is die voormalige president vanoggend vreedsaam by sy huis in Fresnaye, Kaapstad, oorlede ná sy stryd teen mesothelioma kanker.
OFM-nuus
