On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Miljoene onwettig deur regeringsamptenare geëis

───   CATHY DLODLO 11:48 Fri, 19 Nov 2021

Miljoene onwettig deur regeringsamptenare geëis | News Article

Miljoene rande is onwettig deur regeringsamptenare in Sentraal Suid-Afrika van die regering geëis. Dit is volgens die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE).

Dié eenheid het tydens ‘n sitting van die Openbare Rekeninge Komitee van die Parlement aan LP’s gesê dat honderde amptenare van provinsiale departemente in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes van die tydelike hulpfonds (TERS) – wat die regering tydens die grendeltydperk aangekondig het as deel van die geveg teen die Covid19-pandemie – geëis het. Altesaam 6 000 regeringsamptenare landwyd het hulle hieraan skuldig gemaak.  

Noordwes:
Die meeste geld – ‘n enorme R69,8 miljoen - is onregmatig aan amptenare van die provinsiale regerings in Sentraal Suid-Afrika uitbetaal. Die amptenare, in diens van ses Noordwes regeringsdepartemente – Welsynsontwikkeling, Gesondheid, Tesourie, Onderwys en Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme – gaan nou binnekort vasgevat word. Met altsaam 339 sake wat in die provinsie ondersoek is, het elkeen ’n gemiddelde uitbetaling van sowat R206 000 ontvang. Altesaam 178 amptenare van die Departement van Gesondheid, 153 van die Onderwysdepartement, twee amptenare van Welsynsontwikkeling, en twee van Provinsiale Tesourie was onder diegene wat uitbetalings ontvang het.

Vrystaat:
Amptenare in die Vrystaat het R4,8 miljoen van die tydelike hulpfonds geëis. Die Ondersoek-eenheid sê hulle het tydens die ondersoek die besonderhede van begunstigdes met die besondherhede van regeringsamptenare op die PERSAL-betaalstelsel van die regering vergelyk. Altesaam 491 amptenare van agt verskillende provinsiale departemente het geld van die hulpfonds ontvang. Die bedrag wat elke amptenaar ontvang het, is nie bekend nie, maar die meeste amptenare wat onwettig uitbetalings ontvang het – altesaam 320 – is werksaam by die Provinsiale Departement van Onderwys. Een amptenaar van die Departement van Landbou, een van Menslike Nedersettings, twee van die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer, drie van die Departement van Openbare Werke en tien van die Departement van Welsynsontwikkeling is ook geïdentifiseer. By die Departement van Gesondheid - wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die geveg teen die pandemie - het 153 amptenare uitbetalings ontvang.

Noord-Kaap:
In die Noord-Kaap is verskeie sake ter waarde van meer as R25,4 miljoen in die ondersoek ontdek. Altesaam 180 regeringsamptenare was by dié sake betrokke en is by ses verskillende departemente werksaam. Die SOE het in sy voorlegging aan parlementslede gesê die meeste amptenare – altesaam 113 – is by die provinsiale Departement van Onderwys en 61 is by die Departement van Gesondheid in die provinsie werksaam. Ander departemente waar amptenare hulle aan die oortreding skuldig gemaak het, sluit in die provinsiale Departement van Samewerkende regering, die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, die Departement van Paaie en Openbare Werke, en die Kantoor van die Premier.  

Die eenheid het aan lede van die komitee gesê dat skuldige amptenare dissiplinêre klagte in die gesig staar en hulle sal die geld moet terugbetaal. Waar moontlike kriminele oortredings gevind word, gaan die sake na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word vir ‘n beslissing.


OFM-nuus



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.