Central SA
Mediese nalatigheidseise beloop miljoene in Sentraal SA─── CATHY DLODLO 10:00 Mon, 22 Nov 2021

Die Provinsiale Gesondheidsdepartemente in die Noord-Kaap en Vrystaat het reeds mediese nalatigheidseise van miljoene rande wat teen hulle geregistreer is in die huidige boekjaar.
Die Nasionale Departement van Gesondheid het, in ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag in die Parlement, gesê alhoewel die eise in die verskillende provinsies miljoene beloop, is die eise nie deur die hof vasgestel nie.
Noordwes:
Die meeste eise in Sentraal Suid-Afrika – 31 sake - is teen Noordwes se Gesondheidsdepartement aanhangig gemaak. Die eise teen dié reeds brandarm departement beloop sowat R215,5 miljoen. Die nasionale regering het die departement onder administrasie geplaas. In die vorige boekjaar – 2020/21 – het die departement altesaam 66 eise ter waarde van meer as R469,9 miljoen teen hom gehad.
Vrystaat:
Die Vrystaatse Gesondheidsdepartement het van April tot November vanjaar reeds 21 eise, ter waarde van R246,8 miljoen, geregistreer. Besonderhede van al die sake is nog nie bekend nie en die totale aantal eise en die waarde daarvan gaan eers teen April volgende jaar beskikbaar wees. In die 2020/21-boekjaar het die departement, wat aan die spits staan in die geveg teen die Covid19-pandemie in die provinsie, altesaam 47 eise ter waarde van ongeveer ‘n halwe miljard rand (R512,6 miljoen) verdedig.
Noord-Kaap:
Elf eise teen die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid vir mediese nalatigheid beloop sowat R169,6 miljoen. Dit terwyl die waarde van 15 eise wat in die vorige boekjaar geregistreer is, 2020/21, sowat R531,7 miljoen beloop het. Met nog net vier maande oor voor die einde van die boekjaar, kan die aantal eise en die waarde van die eise nog styg.
Al die besonderhede oor provinsiale gesondheidsdepartemente se mediese nalatigheidseise gaan aan die einde van die boekjaar bekend wees en die bedrae wat die eiser registreer, kan aangepas word na aanleiding van die hofbevindinge.
OFM News