Central SA
Kader-ontplooiing kniehalter dienslewering - DA─── 10:41 Sat, 04 Dec 2021
Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Dawid Kruiper Munisipale regsgebied sê kader-ontplooiing kniehalter dienslewering.
Die party se Flip van der Steen sê vandalisme by ‘n pompstasie in die Pabalello-woonbuurt in Upington plaas die sekuriteitsvermoëns van die Munisipaliteit in die kollig, omdat dit aan kader-ontplooiing toegeskryf kan word.
Daar is verlede naweek vir ‘n tweede keer by die pompstasie ingebreek.
Kabels is gesteel, wat tot ‘n onderbreking in watertoevoer na die woonbuurt gelei het.
Die party sê veiligheidskwessies by die Munisipaliteit is lank ‘n problem, omdat die aangewese amptenare versuim om op ‘n 24-uur basis beskikbaar te wees.
Dit, ondanks R400 000 wat maandeliks deur die Munisipaliteit aan veiligheid bestee word.
Van der Steen sê die DA gaan dus, gebaseer op vorige bevindings oor onreëlmatige aanstellings binne die Munisipaliteit, weer die Openbare Beskermer nader om ondersoek na kader-ontplooiing te las.
Intussen het die woordvoerder vir die Munisipaliteit, Patrick Williams, tydens ‘n gesprek oor basiese dienslewering gesê die gemeenskap moet eienaarskap neem van infrastruktuur wat deur die Munisipaliteit en Noord-Kaapse regering beskikbaar gestel word om die lewens van mense te verbeter.
Williams sê vandalisme en diefstal beroof mense van basiese dienste, en vra dat inwoners diegene wat hulle hieraan skuldig maak, moet rapporteer.
Hy voeg by die aankoop van gesteelde koperkabels deur skrootwerwe is ‘n kriminele oortreding, en daar sal opgetree word teen enige persoon wat hulself hieraan skuldig maak.
OFM-nuus/Roderick Titus
