Central SA
Sowat 200 poste by VS hospitaal vakant─── CATHY DLODLO 13:51 Tue, 07 Dec 2021
Altesaam 135 dokter- en verpleegstersposte by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein is vakant.
Die Nasionale Gesondheidsdepartement het in ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag in die parlemenet gesê die Persal-betalingstelsel van die regering wys dat sowat 200 poste by dié hospital vakant is. Die departement sê van die poste is vir verskeie boekjare nie gevul nie en sommige is so ver terug as September 2009 vakant gelaat. Die Provinsiale Departement van Gesondheid sê sommige van die poste gaan dalk oortollig verklaar word.
Die nasionale departement sê Pelonomi-hospitaal het altesaam 113 verpleegsters- en 22 doktersposte wat nie gevul is nie. Sowat 33 poste vir skoonmakers, 5 vir instandhoudingswerkers, 4 vir administratiewe beamptes en 21 vir die bestuur is vakant.
Die Vrystaatse Gesondheidsdepartement is een van die grootste departemente van die provinsiale regering en salarisse is sy grootse uitgawe. Dié departement het aan die spits gestaan van die provinsie se geveg teen die Covid19-pandemie.
In ‘n poging om sy uitgawe vir salarisse te besnoei het die provinsiale departement nou ‘n komitee aangestel om te kyk watter vakante poste as kritiek beskou en so gou as moontlik gevul moet word. Kostebesparingsmaatreëls, wat ingestel is, lys ook kliniese poste as kritiek.
In die geskrewe antwoord, sê die nasionale departement dat Vrystaat Gesondheid nou slegs poste wat volgens die aanbevelings van die komitee kritiek is, gaan vul.
‘n Proses om die personeel-organogram te herstruktureer is ook aan die gang. Hiervolgens gaan sommige van die vakante poste na verwagting drasties afgeskaal word en ander gaan as oortollig afgeskryf word.
Intussen is ‘n oortyd-beleid vir bestaande personeel goedgekeur om seker te maak dat dienslewering by die hospitaal nie geraak word nie. Die departement gaan na verwagting ook reeds ‘n styging in sy oortyd-besteding ervaar as deel van sy geveg teen die verspreiding van die Covid19-pandemie.
OFM-nuus
