Central SA
Valke soek man wat met saak teen onwettige mynbedrywighede kan help─── BLAINE JONES 10:54 Fri, 07 Jan 2022
Die SAPS in Bloemfontein se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan, bekend as die Valke, het onlangs 'n beroep op die Vrystaatse gemeenskap gedoen om 'n man te help opspoor.
Die Valke is van mening dat Msimango Samuel kan help om die ondersoek na onwettige mynbedrywighede, korrupsie en geldwassery in die provinsie te ontsluit.
Valke-woordvoerder vir die Vrystaat, Christopher Singo, sê agt verdagtes is reeds Maandag 15 November 2021 in hegtenis geneem. Die inhegtenisnames het plaasgevind tydens die beëindiging van 'n projekgedrewe ondersoek wat daarop gemik was om die geïdentifiseerde bedreiging van onwettige mynbou in die Welkom- en Thabong-gebiede uit die weg te ruim.
Nog inhegtenisnames word verwag en daar word geglo dat Samuel met die ondersoek kan help.
“Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om Msimango op te spoor, soos geïdentifiseer op die aangehegte foto, kan die ondersoekbeampte, Babane Skota, by 079 509 4998 kontak. Enige inligting wat ontvang word, sal met streng vertroulikheid hanteer word,” sê Singo.
OFM-nuus
