Central SA
Saak weens beweerde moord, ontvoering uitgestel─── BLAINE JONES 08:53 Tue, 11 Jan 2022
Die saak teen twee Noordwes-verdagtes, wat 'n paartjie aangerand het en glo die man vermoor het, is tot 24 Februarie uitgestel.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se Henry Mamothame sê die twee verdagtes, wat klagte van onder meer moord en ontvoering in die gesig staar, bly in aanhouding.
Rebaone Malekanyo (32) en Tumelo Tlonkwe (31) se hofverskyning spruit uit 'n insident wat in Oktober verlede jaar in Modimong plaasgevind het, toe dié twee deur Tshepang Seelo en sy meisie gewaar is waar hulle glo besig was om by 'n huis in te breek.
Die verdagtes het die paartjie gekonfronteer en hulle aangerand, en daarna vir Seelo saam met hulle geneem en sy meisie in die pad agtergelaat. Seelo se liggaam is later, op 3 November, gevind. Die twee beskuldigdes het hulself op 2 November by die Taung-polisiestasie oorgegee.
Mamothame sê met hierdie uitspraak het die landdros saamgestem met die staat se sentiment dat dit in die belang van geregtigheid is dat die twee in aanhouding bly totdat die saak afgehandel is.
OFM-nuus
