On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum eis dat NVG kind se skietdood ondersoek

───   14:04 Tue, 11 Jan 2022

AfriForum eis dat NVG kind se skietdood ondersoek | News Article

AfriForum se private vervolgingseenheid vra die Direkteur van Openbare Vervolging in die Noord-Kaap dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul besluit om nié vervolging in te stel ná die moord van Maverick Links nie, moet heroorweeg.

Dit volg ná meer as vier jaar sedert die tragiese skietdood van Links (14).

Dit volg nadat landdros Bertus van Zyl op 30 November 2021 in die Upington-landdroshof aan die private vervolgingseenheid (wat die Links-familie verteenwoordig) gelyk gegee het in die formele geregtelike doodsondersoek (GDO) in hierdie saak.

Links is na bewering reeds in Julie 2017 deur ’n tienjarige maatjie met die maatjie se pa se dienspistool doodgeskiet. Die pa was ten tyde van die voorval, en is steeds, ’n lid van die SAPD. Die doel van die GDO was onder meer om te bepaal of iemand aanspreeklik gehou kon word vir Links se dood. 

In hierdie geval het landdros Van Zyl, op die betoë wat die private vervolgingseenheid gemaak het, bevind dat persone wel aanspreeklik gehou kan word en dat hul dade misdrywe uitmaak. Dit volg nadat die NVG vir onverklaarbare redes geweier het om die minderjarige en/of sy pa te vervolg.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het tydens die GDO geargumenteer dat die NVG se irrasionele besluit om nie vervolging in te stel nie ’n direkte gevolg is van die Staat se versuim om ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid, 75 van 2008, op te tree onder meer met betrekking tot ’n kind se toerekeningsvatbaarheid om aanspreeklik gehou te word vir die pleeg van ’n misdaad. In die skrywe word aangedui hoe die NVG die feite wat op toerekeningsvatbaarheid dui óf opsetlik verkeerd toepas óf bloot ignoreer.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se private vervolgingseenheid, kan die NVG se versuim om te vervolg en die gevolglike GDO slegs geïnterpreteer word as ’n poging deur die NVG om hul onbekwame en onprofessionele hantering van die saak te verberg. “Dit blyk dat die NVG ’n tendens ontwikkel het om hul onvermoë om moeilike besluite te neem te verbloem deur eerder ’n GDO te gelas om sodoende hierdie onvermoë te regverdig. Dit is ’n irrasionele misbruik van die regsproses en het in hierdie geval ook misluk ná die landdros se bevinding.”

Die private vervolgingseenheid het ook aangedui dat hulle duidelike redes versoek, sou die NVG besluit om nié vervolging in te stel nie. “Dit is bloot redelik om ná vier jaar antwoorde te eis oor vervolging al dan nie. Dit blyk verder dat daar ’n onoorbrugbare kloof bestaan tussen die beeld wat die NVG in die Parlement en media voorhou en die realiteit wat die slagoffers van misdaad daagliks moet verduur. Die NVG se klaarblyklike weersin om vervolging in te stel in verskeie sake, asook op grond van inligting wat in die Zondo-kommissie geopenbaar is, gaan nie ongesiens verby nie,” sluit Venter af.

Verklaring verskaf.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.