Central SA
Waterkrisis onder Namakwalanders duur voort─── 11:26 Thu, 20 Jan 2022
Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) vra dat dringende stappe gedoen word om water na Springbok en omliggende dorpe in die Noord-Kaap te herstel.
Die Namakwa-distrik is al ses dae sonder water.
Sedibeng Water, wat verantwoordelik is vir die voorsiening van water in die streek kan nie ’n konkrete datum verskaf van wanneer die watertoevoer herstel sal word nie, sê Steve Ledibane, woordvoerder van PSA.
Sekere staatsdepartemente, insluitend die Provinsiale Departement van Onderwys, het 'n werk-van-huis-houding ingeneem om die risiko's van Covid-19-oordrag en ander gesondheidsverwante risiko's te verminder as gevolg van die onvermoë om fasiliteite met warm water te ontsmet en behoorlik skoon te maak.
Die PSA doen 'n beroep op alle staatsdepartemente in Springbok om hul voorbeeld te volg, en raai lede aan om nie persele te betree wat nie skoongemaak is nie, of wat nie skoon, lopende water vir ablusiegeriewe kan voorsien nie. Die PSA doen verder 'n beroep op die betrokke amptenare om 'n ondersoek na die waterkrisis te begin en noodbystand te verleen aan almal wat geraak word.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
