Central SA
#AsbestosGate: Staat vs #AceMagashule en ander in hof─── CATHY DLODLO 11:10 Mon, 21 Feb 2022
Die voorverhoor van die Staat vs Ace Magashule en ander is minute gelede in die Vrystaatse Hooggeregshof uitgestel.
Die voormalige Vrystaatse Premier en sy medebeskuldigdes – insluitende die voormalige uitvoerende burgemeester van die Mangaung Metro, Olly Mlamleli, het Maandagoggend hulle verskyning in die hof gemaak. Die elf beskuldigdes staar klagte in verband met die omstrede multi-miljoenrandse asbesprojek in die gesig. Dié projek – wat die vervanging van asbesdakke in die provinsie behels het - het die regering sowat R255m uit die sak gejaag. Die voorverhoor is egter nou vir byna vier maande uitgestel.
OFM-nuus se joernaliste by die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein sê die voorverhoor het wye reaksie uitgelok en ‘n groep ANC-ondersteuners – sommige van sover as KwaZulu-Natal, het by die hof opgedaag, getooi in ANC-klere. Verkeer om die hofgebou is tot stilstand geruk en paaie is afgesper vir die duur van die hofsaak.
Die voorverhoor is tot 10 Junie vanjaar uitgestel. Intussen het ‘n baie uitgesproke Magashule die staat daarvan beskuldig dat hulle beskuldigdes se tyd mors met die saak en dat hy ’n eis teen die staat gaan instel.
OFM-nuus
