Central SA
Die Ouman en sy kys van meer as ‘n halfeeu─── CATHY DLODLO 11:34 Tue, 05 Apr 2022
“Môre, Tannie Sannie. Hoe gaan dit met jou, en is die Ouman nog lief vir jou?” groet ek soos gebruiklik my oud-kollega.
Vir jare, toe ons eers in dieselfde kantoor en later in die gang mekaar raakgeloop het, het ek haar so gegroet. Soos klokslag het haar gesig opgehelder en het sy elke keer geantwoord: ”Ja-wat, die Ouman maak nog vir my tee.”
Sannie Fouchee het op 31 Maart vanjaar haar 54ste huweliksherdenking gevier. Dit vertel sy my in ‘n vinnige telefoongesprek wat ek gemaak het om van haar wysheid in te adem. Daar en dan besluit ek – dit is meer jare as my eie bestaan en hierdie is ‘n ordentlike storie wat ‘n mens net oor ‘n koppie brousel kan intrek.
So, gou-gou maak ons planne. Kan ek kom kuier en die Ouman ontmoet? Ja, sê sy, hy sal tee maak, die hek oopmaak, maar hy sien nie kans vir ‘n kamera of ‘n band-opnemer nie. Nou stel ek myself voor dat die skugter man baie aantreklik en romanties moet wees om Tannie Sannie se voete só onder haar uit te slaan vir meer as ‘n halwe eeu!
Die Ouman was dit alles, behalwe skugter. Hy het ons behoorlik bederf met plaatkoekies en gouestroop. So saam-saam het ons kop-onderstebo ‘n reis na gister onderneem – van sy kys-briefie (sien aangehegte foto’s), haar ma wat mooi gevra het sy moet die ouer seuns uitlos, tot hulle vrek-klein troue, en die swart en wit portrette met bloedjonk mooiheid.

Op ‘n brose 14-jaar skryf sy, sy sal graag met hom wil kys, en ‘n dag voor April-grapdag in 1968 (toe ek nog net ‘n glinstering in my ma se oog was) is die twee getroud.

Hier by die tweede koppie brousel moet ek vra - wat is die geheim van ‘n goeie huwelik?
Bly verlief, sê sy. Sy het vier anner goeters genoem, maar dit is al wat ek saamgevat het. Met ‘n blik vol gebak en ‘n ekstra woefkardoes met plaatkoekies loop ek daar uit. Ek het lekker gekwyl oor die Ouman in sy lugmag-uniform, gelag tot my trane loop en weer ‘n huppel in my stap gekry. Wie traak nou eintlik oor al die allerdaagse stres? Die lewe is tog mooi, die liefde is nog mooier.
En as hulle troue ‘n April-grappie was, is dit nou nie meer snaaks ná meer as ‘n half-eeu nie.
*Die Ouman is tannie Sannie se troetelnaam vir hom. Hy is Richard Fouchee.
Sannie Fouchee
Richard Fouchee
