Central SA
Kommer oor boeliegedrag in Kuruman─── 10:25 Wed, 27 Apr 2022
Die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap het by Hoërskool Kalahari in Kuruman ingegryp nadat afknouery, geweld en die gebruik van onwelvoeglike taal onder leerders aan die lig gekom het.
Die departement het ook die Menseregtekommissie genader om in te gryp, nadat 'n ouer van 'n gestremde graad 8-leerling besluit het dat sy nie gaan toelaat dat haar seun verder by die skool geboelie sal word nie.
Woordvoerder van die departement, Geoffrey van der Merwe, sê hulle is bekommerd oor swak dissipline en wangedrag by die skool, en het dadelik ingegryp aangesien hierdie tipe gedrag die gehalte van onderwys benadeel.
LEES OOK: Departement ondersoek seksuele teistering by Jan Kempdorpse skool
Hy voeg by die departement het die betrokke leerders geskors hangende die uitslag van hul dissiplinêre verhore, en het verder 'n taakspan ontplooi om die voorvalle te ondersoek en ondersteuning aan die geaffekteerde leerders en hul gesinne te bied.
Hy sê die departement het ’n samewerkingsverhouding met die Departement van Justisie, asook Maatskaplike Dienste en die Menseregtekommissie.
Van der Merwe sluit af deur te sê dat die departement hierdie verhoudings sal gebruik om sosiale verandering onder leerders en opvoeders te verseker, en voeg by dat hulle geen onvanpaste gedrag deur leerders teenoor mede-leerlinge sal duld nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
