Central SA
Voormalige Noord-Kaapse munisipale bestuurder in hof weens bedrog─── 17:15 Tue, 03 May 2022
‘n Voormalige munisipale bestuurder van die Nama Khoi Munisipaliteit op Springbok in die Noord-Kaap het vandag weer vlugtig in die Handelshof op aanklagte van bedrog verskyn.
Die saak is op versoek van die staat tot 5 September vanjaar uitgestel.
Die hof het die versoek toegestaan, sodat meer klagte moontlik bygevoeg kan word en ander beskuldigdes deel kan vorm van die saak.
Nevie Aubrey Baartman - ook ‘n lid van SAFA Nasionaal en leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) in die Noord-Kaap – sowel as sy medebeskuldigdes, die Cloete-egpaar, Zihaadt en Maralise Cloete van Matjieskloof, Springbok - staan tereg op bedrogklagte van R79,9 miljoen.
Die Cloetes was die alleen-direkteure van 'n konstruksiemaatskappy, MPG Construction, wat in 2013 vermoedelik onregmatig ’n tender van R79,9 miljoen bekom het, volgens die Valke se woordvoerder, Nonthandazo Mnisi.
Die staat voer aan dat die maatskappy nie aan die nodige vereistes voldoen het nie. Die nodige verkryginsprosesse is ook glo verontagsaam.
Baartman was in daardie stadium die munisipale bestuurder by die munisipaliteit en bevriend met die Cloetes.
Die drie, asook die maatskappy, is eers in Junie 2021 gedagvaar om in die hof te verskyn.
Tydens vanoggend se verrigtinge het die drie se regsverteenwoordiger hom van die saak onttrek. Hulle het intussen nuwe regshulp aangestel.
Die AfriForum-tak op Springbok is die klaers.
OFM-nuus/Isaac Cloete
