Central SA
Saak teen voormalige Nama Khoi munisipale bestuurder uitgestel─── 10:37 Thu, 05 May 2022
Die voormalige munisipale bestuurder van die Nama Khoi-munisipaliteit in die Noord-Kaap het vandeesweek vlugtig in die hof vir handelsmisdaad in Springbok verskyn, op klagte van bedrog.
Die saak is op versoek van die staat tot 5 September vanjaar uitgestel om meer klagte en nog verdagtes by die saak te kan voeg.
Aubrey Baardman en sy twee medebeskuldigdes, Zihaat en Merelise Cloete, staan tereg op bedrog-aanklagte van R79,9 miljoen, wat in onregmatige tenders bekom is.
Die Valke se woordvoerder, Nomthandazo Mnisi, sê Baardman was ten tye van die uitgee van die tenders bevriend met die Cloetes en het 'n rol gespeel in die onregmatige verkryging van die tender wat aan hulle toegestaan is.
Die drie se regsverteenwoordiger het hom tydens die verrigtinge onttrek, waarna hulle 'n ander regsverteenwoordiger aangestel het. Die maatskappy, MGP Construction, waarvan die Cloetes alleen-direkteure is, word ook by die saak betrek.
