On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum maan munisipaliteit in Welkom om rioolprobleem op te los

───   06:01 Sat, 07 May 2022

AfriForum maan munisipaliteit in Welkom om rioolprobleem op te los | News Article
Rou riool wat in mense se erwe opstoot/FOTO: Verskaf

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op Woensdag 4 Mei die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit in Welkom gemaan om die rioolwerke van die stad en omliggende dorpe weer op standaard te kry.

Die aksie kom as gevolg van die swak toestand van alle rioolwerke en -pompe in die munisipale area wat grootskaalse besoedeling tot gevolg het.

In die skrywe versoek AfriForum dat die munisipaliteit dringend die rioolprobleem moet aanspreek en die storting van rou riool onmiddellik staak. Hulle versoek ook dat die munisipaliteit binne drie dae van ontvangs van die skrywe aan AfriForum terugvoer gee oor die planne wat geïmplementeer gaan word om die probleem aan te spreek. Onverwerkte riool wat by die Thabong rioolwerke gestort word, vloei in die Mosterdkanaal in wat dan in die Sandrivier opeindig.  

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, is die probleem groter as net Welkom en sluit dit al die omliggende dorpe in die munisipale gebied in. “Odendaalsrus, Virginia, Hennenman, Allanridge,en Ventersburg is almal dorpe wat gebuk gaan onder die rioolprobleem as gevolg van die swak instandhouding van rioolaanlegte, stukkende pompe en die ineenstorting van rioolinfrastruktuur. AfriForum het al in die verlede briewe aan die munisipaliteit gestuur om die probleem onder hulle aandag dit bring, maar dit wil vir ons voorkom of die munisipaliteit hulle nie steur aan die gemeenskap se stem nie. Indien die munisipaliteit nie gehoor gee aan die aanmaning nie sal AfriForum ’n strafregtelike klagte gaan indien by die SAPD teen die munisipale bestuurder en haar in haar persoonlike hoedanigheid aanspreeklik hou vir die besoedeling wat plaasvind.”

Verder het Grobbelaar bygevoeg dat die riool nie net ’n negatiewe impak het op die rivier en ekosisteem nie, maar ook op mense se gesondheid en lewenskwaliteit. “Die riool vloei nie net uit in die rivier nie, maar ook in mense se huise, strate, en velde rondom en in die dorpe. Mense se gesondheid en lewensgehalte word negatief beïnvloed deur die wanbestuur en onbevoegdheid van die munisipaliteit. Dit is tyd dat die munisipaliteit die dienste oorgee aan private maatskappye wat weet hoe om die dienste te bestuur en toe te sien dat die belastingbetalers se geld reg gebruik word.”

Verklaring verskaf.



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.