On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Bloemskou oortref alle verwagtinge

───   10:28 Wed, 11 May 2022

Bloemskou oortref alle verwagtinge | News Article

Ten spyte van al die uitdagings wat Bloemskou die afgelope twee jaar in die gesig gestaar het, het 93 722 mense vanjaar deur die hekke na die skouterrein beweeg.

Volgens Elmarie Prinsloo, Hoof Uitvoerende Beampte van die Bloemskou, het slegs 7.6% minder mense bygewoon as in 2019.  

Die verwagting was dat 50% minder mense sou bywoon. 

“Die dag waarop die meeste mense by die skou was, was op Saterdag, 30 April, toe daar 13 815 was.”

Vele talentvolle entrepreneurs het stalletjies by die Bloemskou gehad, met 'n totaal van 267 uitstallers uit 314 uitstalruimtes. Daar was ook 49 kosstalletjies, 14 landbou-kampioenskappe, 253 suiwelprodukinskrywings, 1 891 inskrywings by kreatiewe handwerk en 20 kunstenaars.

“Die bywoning vanjaar was ‘n reuse raaisel en gegewe dat onder 30% nasionaal ingeënt is, was die verwagting ‘n basis van 50% van 2019. Die hongerte van mense om uit te kom, te skou, saam te kuier en te eet was net groter as wat almal gedink het,” het Prinsloo gesê.

Bloemskou het ’n enorme impak op die ekonomie van Manguang gehad. 

“Die ekonomiese effek van Bloemskou op die ekonomie van Bloemfontein en Mangaung is enorm groot.  Dit beloop in die omgewing van R100-miljoen. Hierby ingesluit, is die positiewe ekonomiese effek op handel- en winkelsentrums, asook ander besighede soos petrolstasies, die gasvryheidsbedryf, diensverskaffers soos die media, druk van aanwysings en kennisgewingborde, die drankbedryf, verpakkingsbedryf en  meer,” verduidelik Prinsloo.

“Die hoogtepunte van die langverwagte Bloemskou was inderdaad die bywoningsyfer, die grootste opelug Saalperdskou ter wêreld, die groot bywoning van die kunstenaars se optredes, die FMX-motorfietswaagvertoning en die ongelooflike atmosfeer in die wandellane,” vertel sy.

Prinsloo voeg by dat hulle dankbaar is teenoor elke besoeker wat die skou bygewoon het en meer as net hulle ondersteun het, maar ook die uitstallers, kosstalletjies en verder ook die ekonomie van Bloemfontein.

“Ons moedig mense aan om in dieselfde mate ander groot geleenthede soos rugby, sokker, krieket en skoue soos Graan SA se NAMPO Oesdag te ondersteun.”

OFM News/Heidré Malgas

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.