Central SA
Departement ontevrede met situasie by Hoërskool Kakamas─── 12:51 Tue, 07 Jun 2022
Die Noord-Kaapse onderwysdepartement sê hulle is ontevrede met die situasie wat by die Kakamas-hoërskool uitspeel.
Leerders kan glo nie eksamen skryf nie weens ’n gebrek aan basiese leermateriaal, wat papier en skryfbehoeftes insluit.
Geoffrey van der Merwe, die departement se woordvoerder, sê die skool ondervind ernstige finansiële probleme en daarom het die departement besluit om die skool onder administrasie te plaas.
Hy sê die streekkantoor het intussen ingegryp en leermateriaal aangekoop wat sal help verseker dat eksamen geskryf kan word.
Ontevrede ouers het vanoggend werksaamhede by die skool tot stilstand gebring.
‘n Bekommerde ouer, Mary van Wyk, sê hulle is bekommerd oor die toekoms van hulle kinders, en versoek onmiddelike ingryping.
Die departement sê die skool se finansiële probleme spruit voort uit die beweerde misbruik van skoolfondse deur ’n lid van die skool se beheerliggaam.
Van der Merwe sê hulle wag vir die uitslag van ‘n forensiese ondersoek.
OFM-nuus/Roderick Titus
