Central SA
Twee vas nadat hulle De Aar-vrou beroof, ontvoer─── 14:48 Tue, 14 Jun 2022

Twee buitelandse mans is in hegtenis geneem nadat hulle by 'n vrou van De Aar in die Noord-Kaap as bouers gewerk het, en haar in die bagasieruim van haar voertuig ingedwing en ontvoer het.
Kaptein Olebogeng Tawana van die polisie sê die mans het die 30-jarige vrou gister by haar huis oorval en met haar Audi Q2 weggejaag.
Die vrou was in besit van haar selfoon en het via WhatsApp met haar ma gekommunikeer, wat die polisie in kennis gestel het.
Die polisie het, in samewerking met 'n plaaslike sekuriteitsmaatskapy, Landile-sekuriteitsdienste, 'n soek-en-reddingsaksie geloods, en het met die hulp van die hoofwegpatrollie-eenheid van Johannesburg die voertuig met die twee verdagtes en die slagoffer by die Grasmere-vulstasie op die N1, suid van Johannesburg, aangetref.
Die vrou, wat slegs kneusplekke opgedoen het, was ten tye van die opsporing steeds agter in haar motor. Die mans word van roof, ontvoering, asook diefstal van 'n motorvoertuig aangekla en sal binnekort in De Aar in die hof verskyn.