Central SA
ZF Mgcawu Speaker reageer op beweerde inhegtenisname van burgemeester─── 15:00 Fri, 17 Jun 2022

Die Speaker van die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, Stanley Peterson, het op sosiale media gereageer op navrae rakende die beweerde inhegtenisname van die uitvoerende burgemeester van dié distriksmunisipaliteit oor beweerde korrupsie en bedrog.
Peterson sê hy kan nie kommentaar lewer op die bewerings en navraag nie, maar dat die relevante owerhede soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Valke of die betrokke amptenare hieroor kan kommentaar lewer.
Hy sê die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit sal in sy volgende raadsvergadering op die 30ste Junie vanjaar die kwessie hanteer indien die regerende ANC die saak na hom as speaker verwys vir aandag.
Peterson sê as speaker van die munisipaliteit sal hy seker maak dat geen korrupte aktiwiteite by dié streek of enige munisipaliteit deur enige raadslid gepleeg word nie.
Hy bevestig ook dat die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit finansieël stabiel is.
Peterson sê hy het deur middel van 'n tweet deur die ANC se provinsiale sekretaris, Deshi Nxanga, van die beweerde inhegtenisname te hore gekom.
Intussen het die SAPD in Upington se woordvoerder, Sersant Ompile Masegela, nie op die navraag oor die beweerde in hegtenisname gereageer nie.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Mojalefa Senokoatsane, het op sy beurt aangevoer dat hulle binnekort gaan reageer.