Central SA
#CurrieCupFinal: Griekwas moet sáámstaan, sê 'Mannetjies' Roux─── HEIDRÈ MALGAS 11:20 Tue, 21 Jun 2022
Net meer as 50 jaar nadat Francois du Toit Roux, beter bekend as "Mannetjies" Roux, Griekwaland-Wes se rugbyspan gelei het tot slegs hul derde Curriebeker-oorwinning, sien hy weer uit na vanjaar se Curriebeker-finaal.
"Mannetjies" Roux was in 1970 die spankaptein toe Griekwaland-Wes die Curriebeker gewen het.
OFM-nuus het die voorreg gehad om met dié legendariese rugbyspeler te praat om sy mening oor vanjaar se eindstryd te kry, asook die raad kry wat hy aan die span sou gee.
Hy vertel vir ‘n klein unie is dit ‘n groot prestasie. “Alhoewel die Curriebeker bietjie verander het sedert die tyd toe ons gespeel het, om daar uit te kom vat nog steeds harde werk, hulle speel met ‘n goeie hart en het ‘n goeie lus vir die spel,” het hy gesê.
Sy advies aan die span is dat elke speler moet goed verdedig en die regte ding op die regte tyd doen.
“Verdediging is baie belangrik, en hulle moet as ‘n span saamspeel, dit gaan oor samespel en die gebruik maak van die kanse wat hulle kry,” het hy bygevoeg.
“Elke rugbyspan en speler speel om te wen, so vir hulle sal dit baie beteken om die wedstryd te kan wen,” sê Roux.
Hy vertel dat die Curriebeker ‘n groot eer vir hulle in 1970 was en hy is seker dat hierdie jaar se span dieselfde gaan voel wanneer hulle wen.
“Ons hoop hulle alles van die beste toe en hoop hulle wen die beker. Dit sal ‘n groot eer en prestasie wees as hulle dit regkry,” het hy gesê.
Volgens Wikipedia is die legende dat hy sy bynaam gekry het van 'n huishulp wat sy eiesinnigheid blykbaar nogal amusant gevind het. "Mannetjies" het glo as jong seun in Victoria-Wes op 'n hoë stoep om die huis gespeel en die huishulp het hom gewaarsku met: “Mannetjie, pasop dat jy nie daar afval nie!” Die "s" aan die einde is eers heelwat later deur sy vrou bygevoeg.
Die Afrikaanse kunstenaar Laurika Rauch sing 'n bekende liedjie met die titel "Stuur groete aan Mannetjies Roux" en as huldeblyk het sy in 2011 die liedjie vir hom, wat langs haar gestaan het, by 'n Blou Bulle vs Stormers Superrugby-wedstryd by Loftus Versfeld-stadion opgevoer.
Die Curriebeker-finaal skop Saterdag in Kimberley om 15:00 af.
