Central SA
Upington SAID-kantore weens staking gesluit─── 14:51 Wed, 13 Jul 2022
Nakop-grenspos, asook Upington se Suid-Afrikaanse Inkomstedienskantoor, is van die kantore wat gesluit is weens ‘n staking deur lede van die Nehawu-vakbond.
Nehawu en die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het bevestig dat hulle staking by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) onbepaald sal voortduur totdat werkgewers 'n beter aanbod maak.
Werknemers het die jongste aanbod van 1,3% verwerp en op 'n verhoging van 12% aangedring.
Die Inkomstediens moes reeds tientalle van sy kantore - insluitend dié in Upington - weens die staking sluit.
Nehawu se provinsiale koördineerder, Nandipha Mququ, sê hoewel die SAID van elektroniese dienste gebruik maak, word gewone belastingsbetalers tog geraak en is dit nie soos die inkomstediens beweer dat alles glad verloop nie.
Sy sê sedert hulle op 25 Mei begin gestaak het, kon die inkomstediens nie met 'n werkbare oplossing vorendag kom nie.
Die vakbond se streeksekretaris, Enoch Titus, sê hulle het 'n opdrag van hulle lede wat hulle sal uitvoer - al neem die staking ook hoe lank.
Hy sê die staking sal meebring dat swaar voertuie by grensposte begin ophoop.
OFM-nuus/Roderick Titus
