Central SA
Kry jul sake in orde: Godongwana aan munisipaliteite─── 15:47 Mon, 18 Jul 2022
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het die name van vier munisipaliteite in die Noord-Kaap en Vrystaat bekend gemaak wat sedert April vanjaar versuim het om werkers se salarisse te betaal.
Godongwana sê hy kan nie inmeng waar munisipaliteite nie hul finansiële verpligtinge nakom nie.
Die minister het gereageer op 'n vraag van die Vryheidsfront Plus, wat gevra het hoeveel munisipaliteite in die land nie hul werkers betaal nie.
Godongwana het die Renosterberg-munisipaliteit in die Noord-Kaap sowel as die Tokologo-, Mantsopa-, asook die Mafube munisipaliteite in die Vrystaat as die sondebokke uitgewys.
Hy sê die agt munisipaliteite wat nie gedurende 2021/22 salarisse betaal het nie, is die Kopanong-, Mohokare-, Masilonyana, Mantsopa- en Mafube munisipaliteite in die Vrystaat, asook Kai Garib in Keimoes-, Renosterberg-, asook Kheis-munisipaliteit by Grobbelaarshoop.
Hy sê die Kai Garib- en Kheis-, sowel as Mafube- en Kopanong-munisipaliteite, is onder diegene wat vir 'n geruime tyd nie werkers betaal nie.
Godongwana sê munisipaliteite moet hul sake in orde kry en hul verpligtinge nakom - veral aangesien die aantal sukkelende munisipaliteite van 6 tot 25 gestyg het.
OFM-nuus/Roderick Titus
